Pilanesberg was baie lekker!
Vandag ’n kort blog in Afrikaans. Dis kort want ek het min tyd, dus ek laai vandag baie foto’s op en ’n bietjie minder teks. Dis nou amper ses uur saans en om sewe uur is ons genooi by vriende vir ’n braai. En hoewel ’n mens laat mag kom op ’n braai, wil ons darem nie té laat daar wees nie. Ons bly maar Nederlanders, nê.
Op pad Rustenburg toe
Gisteroggend het ek en Gerben rond nege uur se kant wakker geword. Ons het gestort, geëet en ons goedjies gepak en daarna die pad gevat Rustenburg/Pilanesberg toe. Pilanesberg is ’n klein wildtuin wat net bo Rustenburg lê, omtrent drie uur se ry vanaf Pretoria. Ons het eers ’n hele ruk gedwaal en gesoek, want die padkaarte het ons nie mooi gewys hoe ons op die hoofpad Rustenburg toe beland nie. Maar op die ou end het ons reggekom.
Baie diere gesien
Ons het in die oggend al na Pilanesberg gebel, of daar plek was in ’n lodge of chalet. Maar daar was nie. Ja, daar was, maar dan moes ons dit vir minimaal twee nagte reserveer en ons het beplan om net een nag bly. Toe besluit ons om maar eers Rustenburg toe te ry, om daar te soek na ’n plek om te slaap. In Rustenburg het ons vinnig ’n lodge met chalets gekry, wat plek vir ons gehad het. Nadat ons gereserveer het, het ons Pilanesberg toe gery.
Pilanesberg was baie lekker! In twee dae tyd het ons baie diere gesien: olifante, kameelperde (giraffes), seekoeie (nijlpaarden), buffels, blouwildebeeste (gnoes), rooi hartebeeste, tsessebes – hulle lyk nogal soos rooi hartebeeste, maar is meer grys -, waterbokke, zebras en skilpadjies. Ongelukkig nie leeuws, luiperde of renosters (neushoorns) nie.
In Rustenburg oorgebly
Die nag het ons in Rustenburg in die lodge oorgebly, en geëet in Rustenburg se Waterfall Mall. ’n groot winkelsentrum met regtig baie moontlikhede om te eet. Ons het ribbetjies (ek) en rumpsteak (Gerben) geëet en nog in die winkelsentrum rondgestap. Klompie boeke en cd’s gekoop.
Vanaand gaan ons dus ’n lekker Afrikaanse braai hou. Maar eers moet ons ’n draai gooi by die slaghuis en supermark, want ons het nog nie vleis en bykosse gekoop nie. Dis wat ons nou gaan doen. Mooi bly.